Editorial/redaksioneel
Editorial / Redaksioneel
Vat Vyf - Ds Gielie Joubert | Vat Vyf - Ds Gielie Joubert |
|
|
|
|
"Feel it, it is still here!" al is sokker verby "Feel it - it is gone!" Dit is wat mens wil sê noudat die wêreldbeker uiteindelik verby is. Daar was die geweldige opgewondenheid van al die oorsese spanne met hulle lief en leed; hulle oorwinnings en nederlae. Dan was daar die aanhoudende sokkerwedstryde op TV en sokkernuusbulletins; die fanfare van vuvus en feesvieringe by jolkolle. En skielik is dit nou stil. Almal is weg. Tog is daar 'n paar indrukke wat my sal bybly: Die doel van Simphiwe Tshabalala in die eerste wedstryd teen Meksiko, die heldhaftige terugveg van Ghana teen Uruquay en die bittere teleurstelling op die gesigte van die Nederlanders na die eindfluitjie geblaas het in die finaal. Maar daar is iets anders wat my ook lank sal bybly, waarvan baie mense dalk nie kennis geneem het nie. Dit was Geneva se eerlikheid. Geneva is die eerlike skoonmaker van Park Protea Hotel in Mokopane wat 'n Nederlandse gesin se harte baie bly gemaak het. Hulle was in die dorp vir die wêreldbeker en het $15 000 kontant onder 'n Bybel in hul hotelkamer vergeet. Geneva Ramashita, 'n skoonmaker het die hoop note ontdek toe sy skoongemaak het en dit aan haar toesighouer oorhandig. Dié het dit aan die hotelbestuurder oorhandig wat dit toe aan die Nederlandse toeris terugbesorg het. Hy was al amper in Johannesburg toe hy agterkom sy geld is weg. Hy het dadelik omgedraai, teruggegaan en tot sy verbasing al sy geld teruggekry. 'n Verhaal soos hierdie gee mens weer hoop. Geneva kon op verskeie maniere gerasionaliseer het dat sy maar die geld vir haarself kon vat: A. "Dit was onder 'n Bybel so dit was seker God wat dit vir my wou gee." B. "Ek is maar net 'n arm skoonmaker wat van die hand na die mond leef. Ek verdien 'n skop van agteraf - 'n ou gelukkie." C. "Die man het die geld daar vergeet. Ek het dit nie gesteel nie. Optelgoed is vatgoed. Wat oorbly in mense se hotelkamers is mos wat hulle vir ons skoonmakers los vir ons goeie diens." Maar sy het die regte ding gedoen en die geld laat terugbesorg aan die eienaar. Sy is beloon vir haar prysenswaardige optrede. Die toeris het haar $300 gegee vir haar eerlikheid. Eerlike mense moet meer beloon word. Mense wat vir jare getrou in 'n onderneming werk of in die staatsdiens en wat nie korrup is nie behoort raakgesien en geëer te word. Al is dit nie met geld nie maar met een of ander aanprysing. Maar die feit dat sy haar naam skoon gehou het, gaan vir Geneva êrens in die toekoms nog baie beteken. Die Bybel sê 'n "goeie naam is verkiesliker as groot rykdom" (Spr 22:1). Eendag gaan iemand 'n eerlike werker soek vir 'n belangrike pos en dan gaan hy onthou van hierdie skoonmaker wat met $15 000 (sowat R113 000) vertrou kon word. En dan gaan sy besef eerlikheid was die beste beleid. Ons moet nie ons oë altyd net op onmiddellike bevrediging hou nie. Ons moet doen wat reg is en vertrou dat God in beheer is van die gevolge. "Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind." (Pred 11:1). Geneva, lank na die wêreldbeker vergete is in almal se gedagtes sal ons nog onthou wat jy gedoen het. Jy het voorwaar 'n wendoel geskop vir die Koninkryk. "Feel it, it is still here."
Only registered users can write comments!
Powered by !JoomlaComment 3.26
3.26 Copyright (C) 2008 Compojoom.com / Copyright (C) 2007 Alain Georgette / Copyright (C) 2006 Frantisek Hliva. All rights reserved." |
||||||
| < Prev | Next > |
|---|